Podcast episodes
Check latest episodes from Vers en Klank podcast
Vers en klank: Johan Myburg - Steierwerk
2026/10/13
13 Oktober 2026: Die digter Johan Myburg se sesde bundel, Steierwerk, het onlangs verskyn. Sophia van Taak gesels met hom oor dié versameling sonnette. Die gesprek gaan draai ook by die woordeskat waarmee ons oor die liefde praat, die gewigtige stiltes in Gustav Mahler se laaste simfonie en die behaaglike reuk van ’n dennebos.
Vers en klank: Anri Botha en Melanie Grobler
2026/10/06
6 Oktober 2026: Henriëtta Gryffenberg lees voor uit Anri Botha se bundel, Bakeliet. Sy het in 2018 met die bundel Wolfram gedebuteer. In hierdie nuwe bundel gebruik sy bakeliet – die eerste volledig sintetiese plastiek – as ’n uitgebreide metafoor vir die kunsmatigheid van die moderne bestaan. Henriëtta lees ook verse uit Melanie Grobler se nuutste genaamd Alles van waarde is weerloos. Melanie Grobler skryf vanuit die baie persoonlike ervaring van weduweeskap en verlies. Twee vroue, twee uiteenlopende bundels, twee heeltemal verskillende poëtiese stemme – maar albei skryf sonder ’n beskermende laag. En miskien is dit juis die interessantste raakpunt: hulle albei gebruik poësie om dinge wat nie maklik verstaanbaar is nie, te probeer begryp.
Vers en klank: Vriendskap
2026/09/29
29 September 2026: “Jou vriend is die vervulling van jou behoeftes. Hy is jou akker wat jy met liefde saai en met danksegging maai. En hy is jou maaltyd en jou vuurherd. Want jy kom na hom as jy honger het en jy soek hom vir vrede.” Só skryf Kahlil Gibran in sy boek, Die Profeet, oor vriendskap. Sophia van Taak en Karli Heine verken dié tema. Daar is gedigte deur – onder andere – Antjie Krog, Helena Ewert, Tom Dreyer en Rocco de Villiers.
Vers en klank: Die expat, Elisabeth Eybers
2026/09/22
22 September 2026: Hierdie episode is spesifiek vir die expats bedoel – daardie Suid-Afrikaners in die buiteland wat sekerlik van tyd tot tyd wonder: Wat het ek nou eintlik hier kom soek? En: Sal ek ooit régtig kan tuis voel in hierdie land? As daar iemand is wat dié gevoel baie goed geken het, dan was dit die digter Elisabeth Eybers. Sy het vir 46 jaar in Suid-Afrika gewoon en daarna vir óók 46 jaar in Nederland. Kom blaai saam met Joanie Combrink deur Eybers se digbundels wat sy in Nederland geskryf het om uit te vind hoe sy as buitestander haar voete daar in die vreemde gevind het.
Vers en klank: Koorsboom - Jakes Möller
2026/09/15
15 September 2026: Sophia van Taak en Lochner de Kock blaai deur die debuutbundel, Koorsboom. Dis die pennevrug van Jakes Möller, en ’n verrassend sterk eerste versameling – vol deeglike skryfwerk en eksperimente met vaste digvorme soos die haikoe, villanelle, kwatryn en sonnet.
Vers en klank: Joan Hambidge
2026/09/08
Die digter Joan Hambidge vier op 11e September haar 70ste verjaarsdag. Sophia van Taak hou vir haar ’n partytjie! Die gesprek gaan oor die grootste invloede op Hambidge se skryfwerk, haar gunsteling wêreldstede, wat sy doen wanneer sy saans uitgaan en waarom die Afrikaanse letterkunde met ’n akwarium vergelyk kan word.
Vers en klank: William Rowland
2026/09/01
1 September 2026: Komende Vrydag is dit Loslitdag. Dan kan die mense wat gewoonlik netjies moet aantrek vir werk, ook ’n slag sommer in jeans en tekkies werk toe gaan. Maar dié dag gaan nie eintlik oor net lekker gemaklik aantrek nie – dit is ’n groot bewusmakingsveldtog waarin die behoeftes van mense wat met gestremdhede saamleef, ’n slag weer onder ons almal se aandag gebring word. Eben Genis lees gedigte voor van William Rowland, wat as klein seuntjie sy sig verloor het. Sy blindheid het hom nooit teruggehou nie. Inteendeel, hy was een van Suid-Afrika se grootste kampvegters vir die regte van gestremdes.
Vers en klank: Danie Marais - Ek is nie Danie
2026/08/25
25 Augustus 2026: Daar het onlangs ’n bloemlesing van die digter Danie Marais se werk verskyn. Die gedigte vir hierdie versameling, Ek is nie Danie, is só keurig gekies dat dit amper soos ’n lewensverhaal lees, waar elke gedig voortbou op die vorige. Sophia van Taak gesels met Marais oor sy baie persoonlike skryfstyl. Die gedigte is verhalend en soms humoristies of ironies, maar daaronder lê ernstige vrae oor identiteit, skuld, liefde en waar ’n mens behoort.
Vers en klank: Die skaduwee van siekte
2026/08/18
18 Augustus 2026: Dit is seker een van die moeilikste gedagtes waarmee 'n mens gekonfronteer kan word - dat daar sekere dinge is wat eenvoudig buite jou beheer is. Jy kan byvoorbeeld sommige siektes probeer voorkom deur gesond te eet, meer te oefen en minder te stres. Maar partykeer skuil ’n gróót siekte in jou gene, en maak nie saak wát jy doen nie, dit sal op ’n dag maar net sy verskyning maak. Hierdie soort kwale raak selde net die een wat dit dra. Dit sprei sy skaduwee ook oor geliefdes en vriende. Ons luister na gedigte wat dié rimpels van ’n mediese uitdaging beskryf. Die voorlesers is Erica Wessels en Carel Nel.
Vers en klank: Mediese mankemente
2026/08/11
11 Augustus 2026: ’n Mediese ondersoek is selde net ’n ondersoek van die liggaam. Dit is ook ’n ondersoek van die gees. Dit vra iets van ’n mens se moed, jou geduld en jou vermoë om met onsekerheid saam te leef. Digters het nog altyd hierdie oomblikke probeer vasvang – die weerloosheid van ’n liggaam wat nie meer heeltemal gehoorsaam is nie; die vreemde taal van mediese terme; die menslike behoefte om sin te maak van lyding... Maar hulle skryf ook oor die humor wat, selfs in ’n spreekkamer, kan opduik. Carel Nel en Erica Wessels doen voorlesings van gedigte oor mediese mankemente.
Vers en klank: Lina Spies
2026/08/04
4 Augustus 2026: ’n Huldigingsbundel ter ere van die digter Lina Spies het onlangs by Naledi Uitgewers verskyn. Sophia van Taak praat met Alwyn Roux, een van die samestellers en redakteurs van ONTHOU IS DIE DAG WAT BREEK, oor Spies se digterlike nalatenskap, en hoe haar stem vandag steeds relevant is, en jong digters daarmee in gesprek tree.
Vers en klank: Sondagblues
2026/07/28
Daar is seker nie ’n amptelike diagnose soos Sondagblues-sindroom nie, maar dit is tog ’n algemene ding waarmee baie mense sukkel. Daardie spesifieke soort bedruktheid, ’n swaarmoedigheid wat jou op ’n Sondagnamiddag beetpak. Toemaar, jy’s nie alleen nie. Almal van ons wens dit kan eerder weer Saterdag wees – ons digters ook! Eben Genis lees gedigte voor oor Sondae.
Vers en klank: Wilhelm Knobel
2026/07/21
21 Julie 2026: Wilhelm Knobel was ’n Sestiger-digter, wie se klein, maar besonder intense oeuvre, die worsteling van ’n hoogs sensitiewe mens met eensaamheid, liefde, geestelike verwarring en die soeke na sin verwoord. Die voorleser, Carel Nel, verken hierdie eenkantmens se introspektiewe, maar baie beeldryke poësie.
Vers en klank: Vuur
2026/07/14
14 Julie 2026: Vuur is – saam met lug, water en grond – een van die klassieke elemente. Vuur is ook een van die mensdom se grootste ontdekkings. Dink maar net wat alles deesdae moontlik is omdat ’n oermens op ’n dag dit reggekry het om ’n hopie droë gras te laat vonk vat. En dan is daar ook soveel simboliek aan vuur: Vir party mense verteenwoordig dit kreatiwiteit en hoop; Dit word ook geassosieer met kennis, inspirasie, spirituele reiniging en transformasie. Al hierdie kenmerke van vuur en lig is ter sprake saam met voorleser Erica Wessels.
Vers en klank: SJ Pretorius
2026/07/07
7 Julie 2026: Die digter, SJ Pretorius, was veral bekend vir sy belangstelling in die gepynigde randfigure, die verstotenes in die krotbuurte. Hy’t ’n sagte plekke gehad vir die underdogs, die verskoppelinge. Hy was ook lief daarvoor om met die hoër klasse se maniertjies en oortuigings die draak te steek. Voorleser Johann Nel verken dié digter se deernisvolle skryfwerk oor mense wat nie oor mag of status beskik nie, en maklik misgekyk word.
