1508154207
God se Woord VARS vir jou Vandag

Advertise on podcast: God se Woord VARS vir jou Vandag

This podcast has
1000 episodes
Language
English
Date created
2020/04/15
Latest episode
2026/10/29
Average duration
4 min.
Release period
1 days

Description

JOU DAAGLIKSE GRATIS OORDENKING Wil jy graag direkte toegang tot VARS hê? Dit is ‘n daaglikse e-oordenking van 3 minute om jou te help om dieper in God se Woord en nader aan Jesus te kom. Elke oordenking bevat ‘n kragtige Bybelvers, met ‘n paar woorde van inspirasie, hoop en aanmoediging wat daagliks per e-pos na jou slimfoon, tablet of rekenaar gestuur word. Jy kan na die klank luister of die teks lees. Dit gaan alles daaroor om jou te help om God se stem te hoor, sodat jy in ‘n ryk, dinamiese en kragtige verhouding met Jesus kan leef. God se Woord in Afrikaans. Vars, vir jou, elke dag.

Unlock God se Woord VARS vir jou Vandag podcast Email contact info,
Listeners & Audience details

Email contact information

Direct podcast contact details

Listeners

Audience numbers & engagement insights

Audience details

Podcast Insights

Podcast episodes

Check latest episodes from God se Woord VARS vir jou Vandag podcast


Vrees Gehoorsaam. Liefde Volg.
2026/10/29
Send us Fan Mail Johannes 14:15-17 As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle 'n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.  Vrees is 'n magtige dryfveer. Dit hou jou op die pad, laat jou luister, en dryf jou selfs om te presteer. Maar dit verander nooit jou hart nie. Want terwyl vrees jou dalk kan dwing om dinge te doen, is dit net liefde wat ware toewyding bring. Het jy al ooit êrens gewerk waar die baas 'n tiran is? ‘n Plek waar dinge deeglik gedoen word, maar waar daar geen vreugde, geen lojaliteit en geen lewe is nie. Vergelyk dit nou met 'n gesonde werksplek, waar mense sommer baie meer van hulself gee by die werk omdat hulle gewaardeer en gerespekteer voel. Dit gee presies dieselfde resultaat, maar met 'n heeltemal ander gees. Dit is die groot verskil tussen godsdiens en 'n verhouding met ons Here Jesus Christus. Godsdiens sê: Doen dít, of anders... Jesus sê: Volg My – want Ek het jou lief. Hy het trouens self vir sy dissipels gesê: Johannes 14:15-17 As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. Ek sal die Vader vra, en Hy sal 'n ander Raadgewer stuur om vir altyd by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat die wêreld Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. Dit was glad nie 'n dreigement nie; dit was bloot feite. Vrees gehoorsaam dalk, maar liefde volg. Jesus se gehoorsaamheid aan sy Vader is nie gedryf deur die vrees dat Hy weggestoot sal word nie, maar deur 'n oorvloedige liefde wat uit 'n baie hegte verhouding kom. Selfs aan die kruis het die liefde Hom gedring om aan te hou “ja” sê. So, vra jouself vandag af – hoekom gehoorsaam jy God? Uit vrees dat Hy jou sal straf, of uit liefde omdat Hy jou reeds vergewe het? Want terwyl vrees jou dalk vir 'n rukkie kan laat luister, is dit net liefde wat jou vir die res van jou lewe aan die gang kan hou.  En onthou: Wanneer jou gehoorsaamheid uit liefde vloei, is dit nie meer 'n plig nie. Dit word 'n plesier. Dis God se Woord. Vars … vir jou … vandag. Support the show Enjoying The Content? For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus! DONATE R50 MONTHLY
Gehoorsaamheid of Droombeeld?
2026/10/28
Send us Fan Mail Lukas 6:46 '“Watter sin het dit dat julle My aanspreek met ‘Here, Here!’ en nie doen wat Ek sê nie? ' Elke dag hoor ons die raad: “volg jou hart.” Dit klink vry en fantasties – totdat jou hart jou in iets gevaarliks inlei. Diep hier binne gehoorsaam selfs die mees onafhanklike mens nog steeds iets: of dit nou begeertes, vrees, geld of die mense se goedkeuring is. Die vraag is nie óf ons gehoorsaam is nie, maar aan Wie of wat ons gehoorsaam is. Dink net aan 'n vlieënier wat die beheertoring heeltemal ignoreer. Hy glo wel die instruksies is goed – hy gehoorsaam dit net nie. Dit maak nie saak hoe opreg hy voel nie, die eindproduk bly presies dieselfde: 'n groot ramp. As jy net glo maar nie gehoorsaam nie, gaan jou vliegtuig steeds verongeluk. En weet jy, ons wil dit heeltyd met God ook doen. Ons sê: Here, ek vertrou, maar ons hou aan om op eie instink te vlieg. Ons hou vas aan ons bitterheid, ons gerief, ons eie beheer, en ons reg om dinge op óns manier te doen. En dan wonder ons hoekom die geloof waarvan ons so baie praat, in 'n hoop skerwe eindig. Jesus het self gevra: Lukas 6:46 '“Watter sin het dit dat julle My aanspreek met ‘Here, Here!’ en nie doen wat Ek sê nie?” Dit was nie bedoel om mense slegs te berispe nie – dit was 'n uitnodiging. Ware geloof luister en volg. Ware liefde sê: Ja, Here, selfs wanneer dit baie kos om gehoorsaam te wees. Gehoorsaamheid gaan nie daaroor om God se goedkeuring te verdien nie. Dit is juis die bewys dat ons dit reeds het.  So wanneer God sagkens met jou praat – om dié of daardie persoon wat jou te na gekom het, te vergewe; of om te gee selfs al voel dit na heeltemal te veel, of om weg te stap van die ding wat jou siel stadig maar seker vernietig – moenie huiwer nie, moenie wag nie, en moenie twyfel nie. Jy hoef nie die hele plan te verstaan nie. Jy moet net dié Een vertrou wat vir jou die instruksies gee. Want die geloof wat gehoorsaam, mag dalk soms bewe, maar dit sal nooit neerstort en uitbrand nie. En weet dít: elke liewe daad van gehoorsaamheid beweeg jou weg van 'n leë geloof … reguit in 'n lewende, ware geloof in. Waarom noem julle My: ‘Here, Here!’ en doen nie wat Ek sê nie? Dis God se Woord. Vars … vir jou … vandag.   Support the show Enjoying The Content? For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus! DONATE R50 MONTHLY
Hou Jou Oë op Die Beloning Gevestig
2026/10/27
Send us Fan Mail 1 Korintiërs 15:20 Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het.  Wanneer ons lewens uitmekaar val, is hoop gewoonlik die eerste ding wat sneuwel. Die droom sterf, die lig vervaag, en die stilte voel finaal. Maar in God se ewigheidsplan is selfs die graf nie die einde nie – dit is bloot die omblaai van ’n bladsy. In 2010 was die Chileense mynwerker Luis Urzúa en 32 van sy kollegas vir 69 dae lank onder die grond vasgekeer nadat die myn ingestort het. Vir weke lank het niemand geweet of hulle nog lewe nie. Die temperatuur het die hoogte ingeskiet, kos het min geword, en die donkerte het elke liewe uur ingesluk. Tog het Urzúa die manne gemotiveer, die kosvoorraad uitgedeel en daaglikse gebede gelei. Toe die reddingswerkers hulle uiteindelik bereik, het die eerste briefie wat hulle opgestuur het, gelees: Dit gaan goed met ons in die skuilplek, al 33 van ons. Hoop – wat lewendig begrawe was – het oorleef. En ’n nóg groter hoop klop in die hart van die evangelie, die goeie nuus van Jesus Christus. Nadat Hy gekruisig is, het sy volgelinge gedink alles is verby. Hulle drome het saam met Hom aan daardie kruis gesterf. Maar drie dae later het die onmoontlike gebeur. 1 Korintiërs 15:20 Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het. Die opstanding beteken dat pyn nie permanent is nie, verlies nie finaal is nie, en dat die dood nie die laaste sê het nie.  So wanneer jou wêreld ineenstort en alles donker word, onthou dít: die steen het een keer voorheen weggerol, en hy rol vandag nog steeds weg. Hou vas aan die hoop van die opstanding. Laat dit vorm gee aan hoe jy môre in die oë kyk, en hoe jy vergewe, en hoe jy uithou. Want die heerlikheid volg altyd ná die kruis – en dieselfde krag wat Jesus uit die dood opgewek het, is reeds besig om jóú op te wek. Dis God se Woord. Vars … vir jou … vandag. Support the show Enjoying The Content? For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus! DONATE R50 MONTHLY
Wanneer jy nie Kan Verstaan Hoekom Nie
2026/10/26
Send us Fan Mail Romeine 8:28 Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.  Wanneer die lewe jou sleg behandel, is jou eerste vraag amper altyd: Hoekom? Hoekom hierdie siekte, hierdie verlies, of hierdie terugslag? Maar sê nou die groter vraag is nie hoekom nie, maar wie? – Wie is hier saam met my in die ding, en wat wil Hy daardeur bereik?  In 1951 het die Japannese beeldhouer Chiharu Matsunaga albei sy hande in 'n fabrieksontploffing verloor. Sy loopbaan – sy hele identiteit – het gelyk asof dit daarmee heen is. Terwyl hy herstel het, het hy met klei begin eksperimenteer deur dit net met sy voorarms te druk en te vorm. Dit het jare van probeer en tref, en geweldig baie geduld gekos; maar uiteindelik het hy 'n nuwe tegniek ontwikkel wat die moderne beeldhoukuns in Japan heeltemal verander het. Hy het later gesê: My wonde het my geleer hoe om die skoonheid te sien wat my oë voorheen misgekyk het. Dit is iets wat net swaarkry kan doen – dit skaaf aan jou op 'n manier wat sukses nooit kan nie. Romeine 8:28 Ons weet dat God in alles ten goede meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.  Nou-ja, dit beteken nie alles gaan skielik maanskyn en rose wees nie – glad nie. Maar wat dit wel beteken, is dat God iets goeds uit enige situasie kan laat kom. Dieselfde God wat die opstanding uit die kruisiging laat ontstaan het, kan 'n pragtige nuwe doel uit jou pyn skep. So, wanneer jy swaarkry, hou styf vas aan Jesus, sy karakter en sy voorbeeld. Moenie net bid dat die swaarkry weggaan nie, maar bid dat Hy vir jou iets sal wys. Vra Hom: Here, wat wys U my hierdeur? Wat moet ek hieruit leer? Waarheen lei U my? Ja, my vriend, swaarkry beteken nie dat God nie daar is nie – dit is dikwels juis die werkswinkel waar sy grootste meesterstukke gebore word. Die Vader wat sy eie Seun aan ‘n kruis moes sien hang; verstaan jou pyn en trane en laat dit ten goede meewerk. Dis God se Woord. Vars … vir jou … vandag. Support the show Enjoying The Content? For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus! DONATE R50 MONTHLY
Die Tuin en Die Heuwel
2026/10/25
Send us Fan Mail Lukas 22:42-44 “Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!” 'n Engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. Hy het in doodsangs geraak en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val.  Gehoorsaamheid klink maklik totdat dit jou iets kos. Dis een ding om vir God “ja” te sê as jou lewe veilig voel - maar dis  heeltemal ’n ander storie as sy roeping totale oorgawe vra. In 1519 het die Spaanse ontdekkingsreisiger Hernán Cortés met elf skepe en honderde manne in Meksiko aangekom. Omdat hy bang was dat sy bemanning teen hom sal draai of dat hulle sal probeer terugdraai, het hy iets skokkends gedoen - hy het sy eie skepe aan die brand gesteek. Daar was dus geen hoop om terug te gaan nie. Sy manne moes vorentoe. Nou ja, Cortés was nie ‘n Christen nie, maar sy onwrikbare besluit wys vir ons presies hoe oorgawe lyk: gehoorsaamheid sonder ’n agterdeur. Gehoorsaamheid in God se koninkryk vra altyd daardie tipe moed - die bereidheid om Hom te vertrou selfs wanneer elke stukkie vrees in jou skree: Draai om! In die tuin van Getsemane, die aand voor sy kruisiging, het Jesus in absolute angs gebid. Lukas 22 vers 42 tot 44 lees: “Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!” 'n Engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. Hy het in doodsangs geraak en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val. Daardie gebed het die geskiedenis verander. Uit die tuin van oorgawe het die heuwel van opoffering gekom - en deur dít, ons redding. Gehoorsaamheid kos altyd iets: jou tyd, jou trots, jou gemak of jou beheer. Maar dít wat jy prysgee, is nooit méér as dit wat God in die plek daarvan gee nie. So, as Hy vandag vir jou vra om te laat gaan, om te vergewe, om vrygewig te wees, of om ’n stap van geloof te neem - moenie huiwer nie. Steek die skepe aan die brand. Want gehoorsaamheid is die poort na vreugde, en oorgawe is die grond waarin seën groei. Wanneer jy vir God “ja” sê, verloor jy nooit nie - jy ontdek bloot wat regtig saak maak. Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag. Support the show Enjoying The Content? For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus! DONATE R50 MONTHLY
Diensbaarheid Bo Selfsug
2026/10/24
Send us Fan Mail Markus 10:43-45 Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle almal se dienaar wees. Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”  As jy suksesvol wil wees in dít wat jy doen, moet jy jou tyd slim gebruik - jy moet aanhou beweeg, gefokus bly en nie toelaat dat dinge jou aandag weglok nie. Maar weet jy, liefde gee min om vir tydskedules. Dit daag dikwels in die vorm van 'n ontwrigting op.  In 1996 was 'n man in Tokio, laat oppad werk toe. Skielik sien hy hoe 'n bejaarde vrou by 'n besige kruising inmekaarstort. Tientalle mense het bloot verbygehardloop. Maar hy het gestop, hulp ontbied en by haar gewag totdat die ambulans gekom het. Hy het twee uur laat by die werk opgedaag - en is dadelik afgedank. Maande later het die vrou se familie hom opgespoor en vir hom 'n pos in hulle restaurant aangebied. Daardie klein, ongeleë daad was die begin van sy lewensroeping as ‘n beroemde sjef, om jong sjefs op te lei in diensbaarheid en eerbaarheid. Dít is presies hoe omgee lyk - liefde wat na vore kom wanneer dit jou glad nie pas nie. Toe Jesus oor leierskap gepraat het, het Hy dít gesê: Markus 10 vers 43 tot 45: “Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet almal se slaaf wees. Want die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en Sy lewe te gee as 'n losprys vir baie mense.” Om te dien beteken nie jy wil iets terug hê nie. Dit vra tyd, energie en opregte omgee vir mense wat jou niks kan terugbetaal nie. Dit kies mense bo planne. So as jou skedule môre propvol is en iemand jou tyd nodig het - stop net 'n bietjie. Laat toe dat ware omgee jou planne omvergooi. Dit voel dalk na iets kleins, maar die Here weet daarvan. Grootheid in God se koninkryk word nie gemeet aan wat jy bereik nie, maar aan Wie jy dien. En wanneer jy afbuk om iemand anders op te tel, sal jy agterkom jy staan presies waar Jesus gestaan het. Dit is God se Woord. VARS … vir jou … vandag.  Support the show Enjoying The Content? For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus! DONATE R50 MONTHLY
Laat Nederigheid Oorwin
2026/10/23
Send us Fan Mail Filippense 2:5-8 Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was. Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.  Dit voel deesdae asof almal mal daaroor is om raakgesien te word. Almal wil hoër op, vorentoe beur en uitstaan. Maar hoe hoër jy klim, hoe makliker vergeet jy wie jou gehelp het om bo te kom. Die waarheid is: in God se koninkryk gaan grootheid nie oor opstyg nie - dit gaan oor neerbuig. In 1970 is die Japannese ingenieur Soichiro Honda - die man wat Honda-motors begin het - ’n groot medalje, as erkenning vir sy sukses, van sy regering gegee. Maar hy het almal verras toe hy dit geweier het. Hy het gesê: Ek het nie hierdie maatskappy gebou nie - my werkers het. Sy nederigheid het mense se monde laat oopval, maar dit het die wêreld laat regop sit. Ware grootheid loop nie en spog nie. Dit buig laag. Filippense 2 vers 5 tot 8: Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was. Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. Dink net vir ’n oomblik daaroor. Die ewige Seun van God - die Een wat alles gemaak het - het afgebuk tot in ons stof. Hy het nie met ’n kroon gekom nie, maar met eelte op sy hande. Hy het nie geëis dat mense Hom moet bedien nie - Hy het hulle voete gewas. Nederigheid is die kenmerk van iemand wat soos Jesus begin lyk. Dis waar liefde dieper word, eiewaan doodgaan en genade wortel skiet. So, voor jy dink aan rykdom of roem, vra jouself af: Waar kan ek vandag ’n bietjie minder aan myself dink? Aan wie kan ek in stilte eer bewys? Wie se las kan ek vandag help dra? Want hoe laer jy buig, hoe vinniger staan jy van aangesig tot aangesig met Jesus. En dít is die enigste plek waar ware grootheid is. Dit is God se Woord. VARS … vir jou … vandag. Support the show Enjoying The Content? For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus! DONATE R50 MONTHLY
God Verstaan Pyn
2026/10/22
Send us Fan Mail Jesaja 53:4-5 Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word. Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.  Waar is God as die lewe donker is? Dis 'n vraag wat al vir eeue lank gevra word in hospitaalkamers, by grafte en tydens slapelose nagte - oral waar mense swaarkry. Maar die ware boodskap van die Evangelie is dít: pyn en lyding beteken nie dat God weg is nie. In 1940 het 'n Britse verpleegster, Edith Appleton, op die frontlinie van die Tweede Wêreldoorlog gewerk. Haar dagboek vertel van nagte waar sy sterwende soldate moes vashou - met hulle bloed op haar hande en hulle laaste woorde in haar ore. Sy het geskryf: Die pyn van hierdie seuns breek my hart, maar op een of ander manier bring dit my nader aan alles wat goed en werklik is. In daardie ondenkbare swaarkry het sy ware omgee beleef. Dit was nie die afwesigheid van God nie; dit was juis die eggo van sy Teenwoordigheid. Ons dink baie keer dat as die lewe moeilik is, God seker nêrens te vinde is nie. Maar sê nou die teenoorgestelde is waar? Sê nou die plek waar jy die meeste pyn het, is presies waar Jesus die naaste aan jou is? Nie om van ver af te kyk nie, maar om reg langs jou te loop. Want onthou, Hý weet wat dit is om te ly. Hy weet van verraad deur vriende, van doodmoeg wees, van eensaamheid, van honger, van hartseer, en uiteindelik van die kruis self. Jesaja 53 vers 4 en 5 sê dit so mooi: "Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word. Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom. Jesus het nie weggehardloop vir menslike pyn nie - Hy het dit omhels. Sodat wanneer jý ly, Hy jou daar kan ontmoet met begrip, nie met 'n vinger wat na jou wys nie. So wanneer jy huil, onthou Hy sy eie trane. Wanneer jou hart brand van die pyn, onthou Hy sy eie wonde.  Swaarkry beteken nie God is weg nie. Dit is dikwels die plek waar sy groot liefde en omgee die meeste lewe. Want die Een wat destyds vir jou gely het, loop vandag saam met jou - totdat elke bietjie pyn uiteindelik plek maak vir sy Heerlikheid. Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag. Support the show Enjoying The Content? For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus! DONATE R50 MONTHLY
Oktober Nuusbrief 2
2026/10/21
Send us Fan Mail VARSVANDAG se Tweede Nuusbrief vir Oktober. NUUSFLITS: Nuwe toring trek God se aandag! Goeiemôre! Hier is die nuus uit die jaar ongeveer 4 225 v.C. Ons korrespondent in Babilon berig dat ‘n sekere meneer Nimrod, bekend as ‘n groot vegter en jagter en die man wat Babilon as die eerste stad van sy ryk gevestig het, instrumenteel was in ‘n projek wat selfs die aandag van die Allerhoogste getrek het. Die Toring van Babel is bedoel om te verhoed dat die mense oor die hele aarde versprei, en om so vir hulleself ‘n naam te maak. Nuwe tegnologie word gebruik: stene en asfalt in plaas van klip. Só word ‘n toring gebou wat tot in die hemel moet reik. Die projek sal wêreldstatus aan Babilon en sy mense gee. Deur hul eie tegnologie, middele en vernuf wil hulle die onmoontlike vermag. Daar is spekulasie oor die werklike motivering. Gaan dit bloot om ‘n reputasie, of is daar ‘n dieper duiwelse agenda om te probeer om God te onttroon? Ons korrespondent berig dat die werk goed gevorder het totdat die Allerhoogste afgekom het om te sien waarmee hulle besig is. Hy was glad nie ingenome daarmee nie en het hul taal verwar sodat hulle mekaar nie meer kon verstaan nie. Chaos het gevolg! Die werk is gestaak en die mense het in alle rigtings versprei. Hoe ironies dat die naam van dié stad “verwarring” beteken! Is dit die einde van die storie? Of sal mense elders weer nuwe stede en torings bou, moontlik gemaak deur nuwe tegnologie, om vir hulleself ‘n naam te maak? Is Babilon bloot ‘n stad met ‘n toring wat in die geskiedenis opgeteken sal word, of is dit ‘n visie wat in die mens se denke geëts is, ‘n drang om ‘n naam te maak, om eie torings deur innovasie, intellek en harde werk te bou? Net die tyd sal leer! Dit was die nuus. Bly by ons om te sien wat God hieromtrent doen! Terug by vandag Een van die dae is dit verkiesingstyd in Suid-Afrika. Ons bid vir ‘n vrye en regverdige verkiesing, en vir verantwoordelike en etiese kandidate wat hul pligte getrou sal uitvoer. Laat ons onthou dat ons eerstens burgers van ‘n ander Koninkryk is. Laat ons gedrag en uitsprake in hierdie tyd die gesindheid van Christus uitbeeld, want daar is ook kinders van God in ander partye. Wil jy op ‘n praktiese manier meehelp om die boodskap van die Koninkryk van Jesus Christus tot in die verste uithoeke van die aarde uit te dra? Jy kan bid vir oop harte en getroue medewerkers, en dat die Here die finansiële middele sal voorsien om die werk te doen. Ons waardeer jou betrokkenheid. Baie dankie! Seën, vrede en opregte VARS-groete, Jokkie, Annelie en die VARS-span Support the show Enjoying The Content? For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus! DONATE R50 MONTHLY
Wanneer Lyding Heerlikheid Word
2026/10/21
Send us Fan Mail Romeine 8:17 En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.  Ons spandeer ons hele lewe daaraan om swaarkry te probeer vermy. Ons hardloop daarvan weg. Ons bid dit weg. Of ons maak bloot asof dit nie deel van ons lewensverhaal is nie. In God se koninkryk is lyding en heerlikheid nie teenoorgesteldes nie. Hulle is twee kante van dieselfde kruis. In 1889 het die Nederlandse skilder, Vincent van Gogh, homself na jare se emosionele pyn in ’n inrigting laat opneem. Hy was alleen en misverstaan. Tog het hy daar geskilder in vlae van absolute angs én genialiteit. En in daardie eensame plek skep hy The Starry Night — ’n warboel van skoonheid, gebore uit diep wanhoop. Van Gogh het eenkeer geskryf: Ek plaas my hart en siel in my werk, en het my verstand in die proses verloor. Hy het nie self sy roem beleef nie. Tog het sy lyding vir die wêreld ’n lig gegee wat vandag nog skyn. Dít is die paradoks: skoonheid deur gebrokenheid. Heerlikheid deur hartseer. Die apostel Paulus - wat geslaan, verraai en opgesluit is - het iets soortgelyks geskryf in:  Romeine 8 vers 17: En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid. Jesus Sélf het daardie pad geloop. Die kruis was nie ’n mislukking nie - dit was die vervulling. Uit sý lyding het verlossing gekom. Uit sý wonde het lewe gekom. So wanneer jy deur seisoene van pyn gaan, moenie dink dat God jou verlaat het nie. Dieselfde God wat die opstanding uit die kruisiging laat ontstaan het, kan betekenis aan jóú stryd gee. Lyding is nie die teenoorgestelde van heerlikheid nie — dit is die pad dáárheen. Want in die koninkryk van God kan selfs jou donkerste nagte ’n meesterstuk van genade skilder. Dit is God se Woord. VARS … vir jou … vandag. Support the show Enjoying The Content? For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus! DONATE R50 MONTHLY
Berei Jou hart Voor vir die Oes
2026/10/20
Send us Fan Mail Lukas 8:15 Die deel wat in goeie grond val, dui op dié wat die woord met 'n goeie en opregte hart hoor en dit bewaar en deur volharding vrug dra. Wonder jy soms hoekom dit lyk asof sommige mense floreer in hul geloof, terwyl ander net so vinnig as wat hulle begin het, weer afdwaal? Hulle het dieselfde boodskap gehoor en dieselfde liedere gesing - maar die resultate was heeltemal anders. So, hoekom is dit dat sommige mense se geloof so goed groei -vreedsaam, vrugbaar en standvastig is - terwyl ander vinnig opskiet en dan doodgaan? Die verskil lê nie by die saad nie. Dit lê by die grond. In die 1800's het 'n Skotse tuinier genaamd John Duncan bekend geword as die Sendeling vir die J**e. Hy was nie beroemd of 'n uitstaande spreker nie - hy was bloot getrou. Vir jare lank het hy in Hongarye vir klein groepe mense gepreek. Hy het konstante verwerping ervaar en byna geen sigbare vrug op sy werk gesien nie. Vriende het hom gevra om eerder huis toe te gaan. Maar hy het rustig aangehou saai. Dekades later, lank na Duncan se dood, het sendelinge op 'n hele netwerk van Joodse gelowiges in Oos-Europa afgekom - almal van hulle was die geestelike nageslag van sy ongesiene arbeid. Dít is hoe goeie grond lyk - getrou, diep, blywend. Jesus het 'n verhaal vertel van 'n boer wat saad gesaai het. Dele van die saad het op die harde pad geval en is deur die voëls opgepik. Ander het op rotsagtige grond beland en in die son verdroog. ‘n Ander deel het tussen onkruid gegroei en dit het verstik. Maar nog ‘n ander deel het in goeie grond geval - en 'n groter oes opgelewer as wat enigiemand kon dink. Lukas 8 vers 15 sê: Die deel wat in goeie grond val, dui op dié wat die woord met 'n goeie en opregte hart hoor en dit bewaar en deur volharding vrug dra. Miskien saai jy tans gebede, of liefde, of die waarheid - en dit voel of niks groei nie. Moenie ophou nie. Die saad lewe. Die oes is op pad. Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.  Support the show Enjoying The Content? For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus! DONATE R50 MONTHLY
Wanneer Geduld Jou Toekoms Beïnvloed
2026/10/19
Send us Fan Mail Galasiërs 6:9 Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel.  Ons leef in 'n wêreld wat vir ons sê: Geniet die lewe. Jy verdien dit. Glo jy my nie? Luister maar net na die vloedgolf van advertensies, en sê dan vir my ek is verkeerd. Maar hier is die groot vraag: Sê nou dít wat jy vandag gebruik, steel die oes wat God vir jou toekoms beplan het?  In die vroeë 1900's het boere in Great Plains in Amerika weens droogte, geweldig swaargekry. Baie van hulle was so desperaat om te oorleef, dat hulle hul saaikoring gemaal het om kos vir hul gesinne te gee. Dit hét hulle vir 'n week of wat aan die lewe gehou - maar dit het hulle met absoluut geen saad gelaat om te plant nie. Die volgende seisoen was hul landerye dolleeg. Korttermyn-oorlewing het hulle hul langtermyn-bestaan gekos. En dít is presies hoe versoeking werk. Ons verruil getrouheid vir gemak. Geduld vir genot. Gehoorsaamheid vir dit wat nóú goed voel. Maar onthou: elke daad van geloof - elke opoffering, elke gawe, elke stap van gehoorsaamheid - is 'n saadjie. En 'n saadjie lewer net 'n oes as dit geplant word, nie as dit geëet word nie. Galasiërs 6 vers 9: Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel. God se seëninge neem tyd. Dit word gekweek, nie gegryp nie. Die wêreld sê: "Bederf jouself." Jesus sê: "Belê." So wanneer jy in die versoeking kom om die maklike uitweg te kies - om op te hou gee, om op te hou dien, om op te hou saai - dink terug aan daardie boer. Die oes kom altyd, maar net vir diegene wat die saad in die grond sit. Vertrou die proses. Vertrou God se tydsberekening. Want geloof wat kan wag, dra vrugte wat sal hou. Moenie jou saad opeet nie. Moenie moeg word om goed te doen nie. Jy sál op die regte tyd jou oes van die ewige lewe ontvang. Moenie moed verloor nie. Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag. Support the show Enjoying The Content? For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus! DONATE R50 MONTHLY
Jou Kroon Wag
2026/10/18
Send us Fan Mail 2 Timoteus 4:7-8 Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms.  Jy kan met passie, talent en oortuiging begin - maar wat die meeste saakmaak, is hoe jy klaarmaak. Want in die wedloop van die geloof begin baie mense goed. Min steek die wenstreep oor terwyl hulle steeds getrou is. In die vroeë 1900's het die Skotse Olimpiese naelloper Eric Liddell die wêreld verstom toe hy geweier het om sy beste item - die 100 meter - te hardloop. Dit was geskeduleer vir ’n Sondag, die dag wat hy vir aanbidding gereserveer het. Die pers het hom uitgelag. Politici het hom as onpatrioties uitgekryt. Maar Eric het vasgestaan. In plaas daarvan het hy die 400 meter gehardloop - ’n resies waarin hy nie die gunsteling was om te wen nie. Net voor die wegspring het iemand vir hom ’n briefie in die hand gestop waarop staan: “Die wat My eer, sal Ek eer.” Hy het goud gewen. Maar weet jy, Liddell se grootste oorwinning het eers later gekom. Op die kruin van sy roem het hy atletiek gelos om as sendeling in China te gaan dien. Toe die oorlog uitbreek, is hy in ’n Japannese kamp opgesluit waar hy sy laaste jare deurgebring het om kinders te leer, kos te deel, en die vrede van Christus uit te straal. Hy is daar oorlede - uitgeput, maar getrou. Die apostel Paulus het, terwyl hy die dood in die gesig gestaar het, aan sy dissipel en aan ons geskryf in: 2 Timoteus 4 vers 7 en 8: Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms. Dít is nou hoe dit lyk om goed klaar te maak. So, wanneer moegheid fluister: Laat skiet, gee moed op, moenie meer probeer nie, onthou dan - die prys word nie vir die vinnigste gegee nie, maar vir die een wat getrou bly. Hou aan om jou wedloop te hardloop. Want elke stap in Jesus se rigting is ’n stap nader aan die kroon wat nooit sal verdof nie. Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.  Support the show Enjoying The Content? For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus! DONATE R50 MONTHLY
Die Krag om te Volhard
2026/10/17
Send us Fan Mail Hebreërs 12:3 Hou Hom voor oë wat so 'n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie  Daar kom ’n punt in elkeen van ons se lewens waar ons kragte eenvoudig opraak. Wanneer dit voel asof ons gebede niks uitrig nie, die gewag eindeloos voel, en om tou op te gooi, na die enigste logiese uitweg klink. Dis juis op daardie oomblik waar ware moed begin - die moed om te volhard. In die 1600's het ’n jong Kwaker-vrou met die naam Mary Dyer geweier om haar geloof in Jesus te verloën. In daardie tyd is die Kwakers in die Massachusetts Bay-kolonie vervolg - hulle is in die tronk gestop, gemartel, en selfs weens hul oortuigings om die lewe gebring. Mary is verskeie kere in hegtenis geneem en beveel om stil te bly oor haar geloof. Maar sy kon nie. Haar gewete het dit net nie toegelaat nie. Toe sy die kans kry om haar eie lewe te red deur haar geloof af te sweer, het sy gesê: “In gehoorsaamheid aan die wil van die Here het ek gekom … en in sy wil, bly ek getrou tot die dood toe.”  Sy is in 1660 in die openbaar opgehang.  Dít is nou volharding - nie met groot geruis, of om ryk en bekend te word nie; dis ’n vasberade liefde vir God wat weier om om te draai. Hebreërs 12 vers 3: Hou Hom voor oë wat so 'n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.  Jesus weet presies wat dit is om ter wille van die waarheid te ly. Hy is verraai, geslaan, bespot en gekruisig - en tog het Hy volhard, omdat sy liefde Hom gedring het. So, wanneer jy uitgeput voel, voel of niemand jou raaksien nie, of as jy in die versoeking kom om tou op te gooi, dink dan aan Mary Dyer.  Dink aan Jesus, want ware moed is nie altyd luidrugtig nie - soms is dit bloot die stil besluit om aan te hou vertrou, selfs al sê alles in jou jy moet ophou. En daardie soort volharding gaan nooit ongesiens verby nie. Dink aan Jesus wat so ’n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het en Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie. Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag. Support the show Enjoying The Content? For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus! DONATE R50 MONTHLY
Wanneer Jy Voel Jy’s in die Minderheid
2026/10/16
Send us Fan Mail 1 Samuel 17:45 Maar Dawid sê vir die Filistyn: “Jý kom na my toe met 'n dolk en 'n spies en 'n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het.  Jy was waarskynlik al self in so ‘n situasie - jy staan in ’n vertrek waar almal van jou verskil. Die druk is tasbaar, die stemme is hard, en skielik voel moed na ’n luuksheid wat jy bloot nie kan bekostig nie. Om in die minderheid te wees, is nie net moeilik nie … dit is vreesaanjaend. In 1989 het ’n onbekende jong man - vandag word hy bloot onthou as die ‘Tank Man’ - op die Tiananmen-plein in Beijing gestap. ’n Ry tenks het op hom afgestorm. Hy het geen wapens gehad nie, geen bondgenote nie; net twee inkopiesakke en ’n onwrikbare oortuiging dat dít wat besig was om te gebeur, verkeerd was. Vir ’n paar onvergeetlike oomblikke het die hele wêreld gekyk hoe hierdie een man ’n magtige ryk in die oë kyk … en weier om te pad te gee. Dis presies hoe moed lyk. Dis hoe dit lyk wanneer jou gewete harder as jou vrees praat. ’n Paar duisend jaar vantevore het ’n ander jong seun alleen teen ’n oormag op ’n slagveld gestaan. Dawid, ’n skaapwagter, het die reus Goliat in die oë gekyk terwyl Israel se leër van vrees gebewe het. Hy het nie ’n harnas of ’n swaard gehad nie - net sy geloof en ’n slingervel wat hy gebruik het om sy pa se skape teen roofdiere te beskerm. Hy het daardie reus reg in die oë gekyk en gesê: 1 Samuel 17 vers 45:  “Jý kom na my toe met 'n dolk en 'n spies en 'n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het. ... en met een enkele klippie het die reus geval. Hopelik sal dit nooit van jou gevra word om tenks of reuse te konfronteer nie, maar jy gáán druk ervaar - om kompromieë te maak, om stil te bly, of om terug te deins. Staan nogtans vas. Want moed word nie deur getalle bepaal nie. Dit lê daarin dat jy weet: wanneer God aan jóú kant staan, is dit beslis die vyand wat die minderheid is, nie jy nie. Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag. Support the show Enjoying The Content? For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus! DONATE R50 MONTHLY

Podcast reviews

Read God se Woord VARS vir jou Vandag podcast reviews


0 out of 5
0 reviews

Podcast sponsorship advertising

Start advertising on God se Woord VARS vir jou Vandag relevant audience podcasts


What do you want to promote?