
Advertise on podcast: God se Woord VARS vir jou Vandag
This podcast has
1000 episodes
Language
EnglishExplicit
No
Date created
2020/04/15
Latest episode
2026/02/05
Average duration
4 min.
Release period
1 days
Description
JOU DAAGLIKSE GRATIS OORDENKING Wil jy graag direkte toegang tot VARS hê? Dit is ‘n daaglikse e-oordenking van 3 minute om jou te help om dieper in God se Woord en nader aan Jesus te kom. Elke oordenking bevat ‘n kragtige Bybelvers, met ‘n paar woorde van inspirasie, hoop en aanmoediging wat daagliks per e-pos na jou slimfoon, tablet of rekenaar gestuur word. Jy kan na die klank luister of die teks lees. Dit gaan alles daaroor om jou te help om God se stem te hoor, sodat jy in ‘n ryk, dinamiese en kragtige verhouding met Jesus kan leef. God se Woord in Afrikaans. Vars, vir jou, elke dag.
Unlock God se Woord VARS vir jou Vandag podcast Email contact info,
Listeners & Audience details
Email contact information
Direct podcast contact details

Listeners
Audience numbers & engagement insights

Audience details
Podcast Insights

Podcast episodes
Check latest episodes from God se Woord VARS vir jou Vandag podcast
Waaraan Het Jy Gedink?
2026/02/05
Send us a text
Romeine 12:2 Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.
Staan jy ooit stil om te dink aan die dinge waaraan jy vandag gedink het? Wat hou jou gedagtes besig? Waaroor peins jy ... en watter invloed het dit op die lewe wat jy lei?
In die middel van die 19de eeu was Ludwig II die koning van Beiere. Hy was 'n briljante individu en hy het die wêreld aan sy voete gehad. Maar hy was obsessief oor fantasie, en hy was geteister deur ‘n baie lae selfbeeld. Sy toenemend negatiewe innerlike wêreld het hom gelei om uit die werklikheid te onttrek.
Ludwig het ‘n fortuin aan fantasie-kastele bestee, hy het verantwoordelikheid vermy en paranoïes en wispelturig geword. Op ‘n dag is hy kranksinnig verklaar. En net ‘n paar dae later is hy geheimsinnig oorlede. Daardie onrealistiese gedagtes het sy greep op die werklikheid vernietig en hom sy troon en lewe gekos.
Baie van die dinge wat die kwaliteit van die lewe wat ons sal lei, bepaal, is buite ons beheer. Jy het seker ook al mal idees gehad wat jou uit die bloute getref het. Ek het ook. Maar die dinge waaraan ons dink, is in 'n groot mate onder ons beheer, en ons kan en behoort verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar.
Romeine 12:2 Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.
'n Veranderde lewe; om te beweeg van die plek waar jy nou is, na waar God wil hê jy moet wees, begin met 'n vernuwing van jou denke. En die beste soort lewe begin met 'n denkpatroon wat deur die Woord en die krag van God verander word. Dít waarop jy nou fokus, wat jy glo, vorm jou vermoë om God se wil te onderskei en om volgens sy doel vir jou lewe te wandel.
Jou denke is nie net 'n passiewe verwerker van inligting nie; dit is 'n slagveld en 'n poort. Dít waarop jy jou denke fokus, sal uiteindelik die verloop van jou lewe bepaal.
Word verander deur die vernuwing van jou denke.
Dis God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.
Support the show
Enjoying The Content?
For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
DONATE R50 MONTHLY
Enige Vordering is Vooruitgang
2026/02/04
Send us a text
Sagaria 4:10 Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie. Die mense sal bly wees wanneer hulle sien Serubbabel gaan aan met die bouwerk.
As jy een van daardie mense is wat koersvas en vasberade goeie dade verrig, kan jy soms moedeloos voel wanneer jy bitter min vordering beleef. Dis asof niks gebeur nie, totdat jy skielik eendag terugkyk om te ontdek hoe ver jy in werklikheid gevorder het.
Tyd gaan vir 'n jong moeder wie se dag uit luiers, tandekry en woedebuie bestaan, stadig verby. Maar op die dag wat haar kind gradueer, kan sy terugkyk na die wonderlike reis wat sy gehad het; die vordering wat deur haar arbeid en geswoeg plaasgevind het.
'n Jong man wat met groot drome die arbeidsmag betree, ervaar dat tyd teen 'n ongelooflike stadige tempo beweeg waar hy op die laagste sport van die leer begin. En na 'n paar jaar met ‘n bietjie meer verantwoordelikheid en 'n bietjie hoër salaris sê hy: "Sjoe, kyk hoe mooi het ek gevorder!"
Toe Israel na sewentig jaar van Babiloniese ballingskap na die Beloofde Land teruggekeer het, was die herbou van die eens glorieryke tempel in Jerusalem 'n uitdagende taak. Onder uiters moeilike omstandighede het hulle hierdie reuse-onderneming met nederigheid en sonder veel sigbare vordering voortgesit. Maar God eer die begin, hoe klein ook al, wanneer dit in die regte rigting op pad is. Kyk wat sê die profeet om hulle aan te moedig …
Sagaria 4:10 Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie. Die mense sal bly wees wanneer hulle sien Serubbabel gaan aan met die bouwerk.
Getrouheid in die klein dingetjies is vir God kosbaar. Wat saakmaak, is nie hoe vinnig (of stadig) dit vir ‘n mens voel nie, maar wat wél tel, is dat jy in die regte rigting beweeg. In God se oë is vordering, vooruitgang. En Hy seën dit.
Dis God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Support the show
Enjoying The Content?
For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
DONATE R50 MONTHLY
Dis Veilig Hier
2026/02/03
Send us a text
Matteus 14:28-29 Toe sê Petrus vir Hom: “Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.” “Kom!” sê Hy. Petrus het uit die skuit geklim, op die water begin loop en naby Jesus gekom.
Sommige mense hou daarvan om in hulle gemaksone te bly, terwyl ander na avontuur en onvoorspelbaarheid smag.
Ek was nog nooit besonder lief vir oefening nie, en tog weet ek, veral soos ek ouer word, dat dit ongelooflik goed vir my is. So, elke oggend staan ek voor 'n keuse – bly ek in my lekker, warm, sagte, knus bed of staan ek op en pak die pad aan vir ‘n vinnige stappie wat my hart vinniger laat klop?
Die bed is so aanloklik, maar die oefening gee my die gevoel dat ek iets bereik het. En weet jy hoe werklik die fisiese en emosionele bevrediging is wat uit strawwe oefening kom? Wat moet ek doen? En dit is die vraag wat ons onsself moet afvra; want ons weet die beste dinge in die lewe lê buite ons gemaksone.
Die boot op die See van Galilea het gekantel, die golwe het bo-oor die kante geslaan, die dissipels het vir hul lewens gevrees. Om sake te vererger, het hulle ‘n figuur oor die water na hulle toe sien loop en hulle het gedink hulle sien 'n spook! Toe Hy nader kom, sien hulle die figuur lyk soos Jesus …
Matteus 14:28-29 Toe sê Petrus vir Hom: “Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.”
“Kom!” sê Hy. Petrus het uit die skuit geklim, op die water begin loop en naby Jesus gekom.
Petrus tree uit sy gemaksone om die krag van Jesus in sy lewe te ontdek. Dis ’n storie wat oor en oor herhaal word: Abram wat alles moes agterlaat op pad na die onbekende plek wat God vir hom sou uitwys; Moses wat die almagtige Farao moes konfronteer; Ester wat haar lewe moes waag … ja, dis ‘n deurlopende tema, nè?
Luister na my: klim uit die boot en loop op die water. God het ‘n plan vir jou lewe … buite jou gemaksone.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Support the show
Enjoying The Content?
For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
DONATE R50 MONTHLY
Jy Kan Nie Met ‘n Leë Tenk Ry Nie!
2026/02/02
Send us a text
Markus 6:30-31 Die apostels het na Jesus toe teruggekom en vir Hom alles vertel wat hulle gedoen en wat hulle die mense geleer het. Daar was baie mense wat gedurig gekom en gegaan het, sodat Jesus en sy dissipels selfs nie kans gehad het om iets te eet nie. Hy sê toe vir hulle: “Kom julle alleen saam na 'n stil plek toe en rus 'n bietjie.”
Hier is ‘n feit wat soos ‘n paal bo water staan: Jy kan nie met ‘n leë tenk aanhou ry nie. Tog probeer so baie mense om op ‘n leë emosionele tenk te oorleef. Dis nie hoe jy veronderstel is om te leef nie! Ons het fisiese en emosionele rus nodig en, of ons dit nou wil weet of nie; ons het geestelike herstel ook nodig. So, sê my: Is jou geestelike tenk leeg?
In 1867 het John Muir byna sy sig in ‘n industriële ongeluk verloor. Hy was ontwrig en fisies én emosioneel uitgeput. Hy het verlore gevoel en hy was onseker oor sy toekoms. Sy dokters het hom aangesê om te rus, maar in plaas daarvan het hy 'n tog van ‘n duisend myl van Kentucky na Florida te voet aangepak. Hy het baie ná aan die natuur gelewe en ‘n nuwe respek vir bewaring ontwikkel.
Op daardie epiese reis het iets verskuif. Sy gees is vernuwe in die stilte van die woude en die ritme van die stap. Dit was ‘n keerpunt in sy lewe. Hy het 'n intense doelgerigtheid om die wildernis te beskerm, ontwikkel. Sy invloed het uiteindelik gelei tot die stigting van die Amerikaanse Nasionale Parke.
Markus 6:30-31 Die apostels het na Jesus toe teruggekom en vir Hom alles vertel wat hulle gedoen en wat hulle die mense geleer het. Daar was baie mense wat gedurig gekom en gegaan het, sodat Jesus en sy dissipels selfs nie kans gehad het om iets te eet nie. Hy sê toe vir hulle: “Kom julle alleen saam na 'n stil plek toe en rus 'n bietjie.”
Jesus het hulle behoefte aan fisiese rus en geestelike vernuwing raakgesien, daarom het Hy hulle genooi na ‘n eensame plek waar hulle hulle ‘liggaamlike en geestelike batterye’ kon herlaai. Ja, my vriend, jy kan nie liefhê nie; jy kan nie leef terwyl jou tenk besig is om leeg te loop; of wanneer jou batterye pap is nie.
Om na jouself om te sien is nie selfsugtig nie – dis goeie rentmeesterskap. God het jou ontwerp vir werk, maar ook vir rus, afsondering, voeding en geestelike verfrissing. So … neem sy raad en rus!
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.
Support the show
Enjoying The Content?
For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
DONATE R50 MONTHLY
Januarie Nuusbrief 2
2026/02/01
Send us a text
Die teks inhoud is beskikbaar in die "transcript" en ook beskikbaar in PDF hier
Support the show
Enjoying The Content?
For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
DONATE R50 MONTHLY
Bewys Empatie
2026/02/01
Send us a text
Romeine 12:15 Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur.
Die sterkste band wat ons met iemand kan bou, is die een wat "empatie" genoem word. Wat behels empatie? Dit beteken dat ons met aandag na hulle luister; dat ons voel wat hulle voel; of hulle nou reg of verkeerd is. Maar die belangrikste is seker dat húlle voel dat hulle gesien word; voel dat hulle gehoor word; en voel dat hulle verstaan word. Dis soos om suurstof in ‘n bedompige kamer in te pomp. Hulle kan uiteindelik asemhaal.
Václav Havel was 'n Tsjeggiese dramaturg, andersdenkende en staatsman wat 'n simbool van vreedsame weerstand teen kommunistiese onderdrukking geword het. As president het hy eenkeer 'n tronk, waar sy politieke vyande, waarvan sommige van hulle vir jare lank in die tronk aangehou is, besoek.
In plaas daarvan om wraak te neem, het hy na hulle geluister. Hy het empatie gehad. Hy het op 'n vreedsame oorgang van mag aangedring. Hy het selfs met sy voormalige teenstanders dialoog gevoer. Een van die tronkbewaarders het later gesê: "Hy het ons soos mense behandel toe niemand anders dit sou doen nie."
Romeine 12:15 Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur.
Maak ons onsself nie dikwels, te midde van ons besige lewe, skuldig daaraan om die suksesse en prestasies van diegene rondom ons te misken nie? 'n Woord van bemoediging vir goeie werk kos niks. 'n Glimlag en 'n vonkel in jou oë wanneer hulle 'n oorwinning behaal het, is suiwer goud.
Dit is selfs makliker om iemand wat in lyding verkeer, te verwaarloos; want dit is rou, dit is moeilik, dit is ongerieflik. Tog sal die trane in jou oë wanneer jy hulle pyn voel, 'n band bou wat waarskynlik nooit gebreek sal word nie.
Wie in jou lewe het jou empatie nodig? Aan wie kan jy nader kom deur te voel wat hulle voel?
Empatie skree nie. Dit maak bloot die deur oop en transformeer enigiets van 'n nasie, soos Havel gedoen het, tot 'n enkele siel in die proses.
Lag en vier fees saam met elkeen wat bly is. Huil saam met elkeen wat hartseer is.
Dis God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.
Support the show
Enjoying The Content?
For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
DONATE R50 MONTHLY
Seën Julle Vervolgers
2026/01/31
Send us a text
Romeine 12:14 Seën julle vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie.
Hoe voel jy teenoor iemand wat jou sleg behandel? Kwaad, bitter, wraaksugtig? Nouja, jy weet jy is veronderstel om hulle te vergewe ... maar dis nie altyd maklik nie.
Elizabeth Elliot was 'n sendeling, ‘n skrywer en spreker wat miljoene mense geïnspireer het. In 1956 is Jim, haar man, in Ecuador, met 'n spies doodgesteek deur ‘n lid van die stam wat hulle met die Evangelie probeer bereik het.
‘n Mens sou verwag dat sy in hartseer of woede sou weggegaan het van Ecuador af. Maar Elizabeth, en haar dogter, het voortgegaan om by daardie moorddadige stam te woon. Sy het hulle vergewe, hulle liefgehad en Christus met hulle gedeel. Baie van hulle het tot geloof gekom, insluitend die einste persoon wat haar man vermoor het.
Toe sy oor haar reaksie op daardie tragedie nadink, het sy gesê: Los dit alles in die hande van Hom wat vir jou gewond is. Met ander woorde, in Jesus se hande. Dit slaan my asem weg. En tog is dit presies die soort reaksie wat die Here van ons vra teenoor die mense wat ons sleg behandel.
Romeine 12:14 Seën julle vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie.
Laat dit net insink. God roep ons hier nie net om diegene te vergewe wat ons sleg behandel nie, maar om ‘n seën oor hulle uit te spreek. Nie net om ons drang, selfs ons reg, om hulle te vervloek; hulle te straf; om ons op hulle te wreek, prys te gee nie, maar om te bid dat God hulle sal seën.
Wie het jou onlangs sleg behandel? Sal jy God se kragtige woord hier ter harte neem? Sal jy net die goeie vir hulle begin toewens? Sal jy bid dat God hulle sal seën? En sal jy selfs nader staan, jou moue oprol en kyk hoe jy vir hulle tot seën kan wees?
Moenie mense beledig wat julle vervolg nie. Bid eerder dat God sy goedheid in hulle lewens sal uitstort.
Dis Sy Woord. Vars ... vir jou ... vandag.
Support the show
Enjoying The Content?
For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
DONATE R50 MONTHLY
Wees Gasvry
2026/01/30
Send us a text
Romeine 12:13 As medegelowiges in nood verkeer, wees jy die een om ’n helpende hand na hulle toe uit te steek. Maak ’n gewoonte daarvan om gasvry te wees – maak nie saak of dit oor kos of slaapplek gaan nie. (NLV)
Nouja, vandag is een van daardie dae wat ek jou met 'n moeilike vraag gaan konfronteer. Hier is dit: Hoe behandel jy vreemdelinge? As jy iemand sien wat jy nie ken nie en wat in nood verkeer, is jy die soort persoon wat opstaan en help, of stap jy oor na die ander kant van die pad om hulle te vermy?
Om vriendelikheid of gasvryheid aan 'n vriend te betoon is wonderlik. En ek is seker dat wanneer jy dit doen, hulle geseënd voel. Hulle sê dalk nie altyd dankie nie. Hulle lyk dalk nie altyd dankbaar nie, maar dit laat hulle gewaardeerd voel.
Maar wat gebeur wanneer 'n vreemdeling moeite doen om iemand te help? Wat gebeur wanneer jy 'n maaltyd kook of selfs jou huis oopstel vir iemand wat jy skaars ken? So ‘n onverwagte daad van vrygewigheid en gasvryheid van 'n vreemdeling vermenigvuldig die seën in die ontvanger se hart, nie waar nie?
Romeine 12:13 As medegelowiges in nood verkeer, wees jy die een om ’n helpende hand na hulle toe uit te steek. Maak ’n gewoonte daarvan om gasvry te wees – maak nie saak of dit oor kos of slaapplek gaan nie. (NLV)
Die oorspronklike Griekse woord wat hier as "gasvry" vertaal word, beteken letterlik "om vreemdelinge lief te hê". In die Bybelse tyd was daar geen hotelle nie. Herberge was baie skaars, om nie te praat van hul slegte reputasie van onveiligheid of immoraliteit nie. Dit verduidelik dus dat reisende Christene, sendelinge of ontwortelde gelowiges baie afhanklik was van die gasvryheid van mede-Christene.
Medegelowiges word aangemoedig om gasvryheid gretig na te jaag, selfs om dit agterna te sit. Deur sy Woord stel God dus nie bloot voor dat ons gasvry moet wees nie. Hy sê vir ons om dit met ywer na te streef; om uit ons pad te gaan om ander te verwelkom; selfs diegene wat ons nie persoonlik ken nie.
Betoon gasvryheid aan vreemdelinge.
Dis God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.
Support the show
Enjoying The Content?
For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
DONATE R50 MONTHLY
Help die Hulpbehoewendes
2026/01/29
Send us a text
Romeine 12:13 As medegelowiges in nood verkeer, wees jy die een om ’n helpende hand na hulle toe uit te steek. Maak ’n gewoonte daarvan om gasvry te wees – maak nie saak of dit oor kos of slaapplek gaan nie. (NLV)
Vrygewigheid is so 'n wonderlike ding, nè? Wanneer iemand vrygewig teenoor ons is, hetsy dit met hul tyd, talente of skatte is, voel ons ongelooflik gewaardeerd, ongelooflik geseënd. Tog is die meeste mense se gewoonte om hulle goedjies op te gaar en dit alles vir hulself te hou.
In my gesprekke met 'n paar ongelooflik vrygewige mense, is ek deur die wonder daarvan getref. Maar dan is daar weer stories van welgestelde mense, wat leef met 'n houding van: Wel, ek het hard gewerk. Dit is myne. Waarom sou ek dit weggee? Hoekom inderdaad?
Wel, kom ons hoor wat God se siening oor vrygewigheid is in:
Romeine 12:13 As medegelowiges in nood verkeer, wees jy die een om ’n helpende hand na hulle toe uit te steek. Maak ’n gewoonte daarvan om gasvry te wees – maak nie saak of dit oor kos of slaapplek gaan nie. (NLV)
In die tyd van die wrede, eerste-eeuse Romeinse wêreld, het hierdie vers, veral onder die vervolgde, verstrooide en dikwels uiters arm Christelike gemeenskappe, diep praktiese en geestelike betekenis gehad.
Die oorspronklike Griekse betekenis van die teks dui op die hulp aan die gemeenskap – hulp aan die medegelowiges; diegene wat vervolg word, wat honger ly, wat in die gevangenis is of wat deur ontworteling ly. Hierdie gelowiges het dikwels as gevolg van hul geloof, hulle werk, huise of selfs familiebande verloor.
Dit gaan dus nie daaroor om lippetaal te praat deur mooi woordjies te sê nie. Dit impliseer 'n aktiewe, persoonlike deelname wanneer jy die laste van ander dra. Moenie 'n fout maak nie. Dit is 'n oproep tot radikale vrygewigheid.
Kyk, God weet niks van suinigheid nie. Nee, Hy vermaan ons hier om mekaar as familie te behandel en materiële behoeftes te vervul as 'n natuurlike uitvloeisel van ons gedeelde lewe in Christus. Ek weet dit is uitdagend. Ek verstaan dit. Maar God roep ons hier, nie net tot gewone vrygewigheid nie, maar tot radikale vrygewigheid.
Dis Sy Woord. Vars ... vir jou ... vandag.
Support the show
Enjoying The Content?
For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
DONATE R50 MONTHLY
Volhard in Gebed
2026/01/28
Send us a text
Romeine 12:12 Wees bly oor die wonderlike toekoms wat God vir julle beplan. Volhard in tye van swaarkry; moenie verslap in die gebed nie.(NLV)
Ek dink jy sal saamstem dat deursettingsvermoë 'n belangrike eienskap is wat iemand moet hê. As jy aan jou gunsteling fliek dink, draai dit seker om 'n held wat onmoontlike uitdagings beleef en dan op die ou end seëvier. En tog is deursettingsvermoë iets wat ons hoop om nooit nodig te hê nie; want dis mos iets wat ons nodig het wanneer ons teëspoed in die gesig staar...
In die 19de-eeu in Engeland het George Müller vir meer as 10 000 weeskinders gesorg. En weet jy hy het nooit een keer vir mense vir geld gevra nie. In plaas daarvan het hy elke keer sy behoeftes in gebed na God geneem. Soms was daar geen kos vir die kinders nie, maar dan het hy kalm gebid en vir God vir die voorsiening van die kos gedank.
Een oggend, terwyl hulle met leë borde aan tafel gesit het, het 'n bakker met vars brood aan die deur geklop en gesê dat hy deur God gelei is om gedurende die nag vir hulle brood te bak. Müller het eenkeer gesê: Die belangrikste punt is om nooit moed op te gee totdat die antwoord kom nie. En hy het nooit moed verloor nie.
Daar was tye in ons bediening wanneer ons nie die fondse gehad het om voort te gaan nie. Op een stadium het die onbetaalde rekeninge 40% van ons jaarlikse skenkings beloop. Ons het gebid en gebid. Op die laaste oomblik het my foon gelui. Dit was 'n man wat gebel het om te sê hy wil ‘n skenking maak – dit was op ‘n sent presies daardie uitstaande bedrag.
Romeine 12:12 Wees bly oor die wonderlike toekoms wat God vir julle beplan. Volhard in tye van swaarkry; moenie verslap in die gebed nie. (NLV)
Waarom kan ons blywees? Omdat God ons verseker dat ons, deur geloof in Jesus, op 'n ewigheid saam met Hom kan reken. Waarom kan ons geduldig wees in tye van lyding en swaarkry? Omdat daar geen put so diep is dat God se liefde nie nog dieper is nie.
En waarom moet ons volhard in gebed? Omdat God getrou is. Sy antwoord is dalk nie wat ons verwag het of op gehoop het nie. Maar dit sal die perfekte antwoord, op die perfekte tyd wees. Volhard in gebed.
Dis God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.
Support the show
Enjoying The Content?
For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
DONATE R50 MONTHLY
Volhard
2026/01/27
Send us a text
Romeine 12:12 Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed.
Het jy al opgemerk hoe stadig tyd verbygaan wanneer jy swaarkry? Die res van die wêreld gaan op sy gewone drafstap voort, maar jou lewe loop in stadige-aksie – uiterste stadige- aksie, soos elke minuut op die horlosie stadig aftik. En jy weet hoe jou geduld onder daardie omstandighede baie vinnig opraak. Kan ek nie net die ‘fast forward’- knoppie druk nie? Kan ek nie net anderkant uitkom nie?
Corrie ten Boom, die eerste vroulike horlosiemaker in Nederland, het 800 Jode gehelp om tydens die Tweede Wêreldoorlog uit die Nazi's se hande te ontsnap. Sy is uiteindelik in hegtenis geneem en na die Ravensbrük konsentrasiekamp gestuur. Daar is Corrie omring deur dood, siekte en ondenkbare wreedheid, maar sy het die verskriklike toestande in nederigheid en geloof in Jesus Christus verduur.
Sy en haar suster Betsie, wat daar gesterf het, het saam gebid, geheime Bybelstudies gehou en die ander vroue bemoedig en gehelp. Corrie het later geskryf: Daar is geen put so diep dat God se liefde nie nog dieper is nie.
Sy het nie die lyding ontsnap nie; sy het dit met geduld verduur en op God se ewige tydsberekening vertrou.
Ons kan onsself nie indink in die ontsettende trauma wat sy met soveel geloof deurgemaak het nie. En tog, te midde van ons lyding op hierdie oomblik, is daardie soort kalmte, daardie soort stilte, daardie soort ongelooflike geloof, heeltemal moontlik. Nie omdat ek so sê nie, maar omdat God so sê.
Romeine 12:12 Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed.
My vriend, my gebed is dat die Heilige Gees jou nou sal vul, sodat jy bly kan wees oor die wonderlike toekoms wat God vir jou deur Christus beplan. Volhard in jou tye van swaarkry en hou vas aan die geduld wat God vir jou in jou tyd van lyding gee, sodat jy ook in jou swaarkry sal ontdek dat daar geen put so diep is, dat God se liefde nie nog dieper is nie.
Wees geduldig in lyding.
Dis God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.
Support the show
Enjoying The Content?
For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
DONATE R50 MONTHLY
Dans van Vreugde
2026/01/26
Send us a text
Romeine 12:12 Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed.
Het jy hoop vir die toekoms? Die probleem is dat wanneer dinge swaar gaan, daardie gevoel van hoop soos mis voor die môreson verdwyn.
Die Roemeense pastoor, Richard Wurmbrand, is in 1948 in hegtenis geneem en vir veertien jaar gevange gehou onder die wrede Kommunistiese regime. Hy is gemartel; hy was vir drie jaar lank in eensame opsluiting in 'n donker ondergrondse sel aangehou en selfs verbied om hardop te bid.
In sy boek Tortured for Christ het Wurmbrand geskryf dat hy gereeld in sy sel gesange gesing het en in sy gedagtes preke geskryf het. Terwyl sy liggaam weggekwyn het, het hy steeds die vreugde van die teenwoordigheid van Jesus ervaar. Hy het geskryf: Alleen in my sel, koud, honger en in vodde het ek elke aand van vreugde gedans.
Was hy mal? Glad nie. Jy sien, net soos die apostel Paulus (wat baie van die boeke van die Nuwe Testament geskryf het terwyl hy ook in die tronk was), was sy hoop nie gewortel in sy donker en desperate omstandighede nie, maar in die lewende Christus. Tweeduisend jaar gelede, in een van daardie briewe, skryf Paulus die volgende:
Romeine 12:12 Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed.
Die probleem is dat ons hoop dat ons omstandighede eendag sal verbeter; dit mag dalk gebeur, of dit mag dalk nie gebeur nie. Daardie finansiële probleme kan van ellendig na bankrot gaan. Daardie kankerdiagnose kan die dood beteken – ons gaan almal eendag sterf. Dis die lewe...
Maar wanneer jou hoop in Christus is, is die uitkoms verseker. Jy kan absoluut seker wees dat jy jouself eendag in sy Teenwoordigheid sal bevind – sonder siekte, sonder pyn, sonder trane – vir alle ewigheid.
Daarom kan jy jou in die hoop verbly. Dans dus van vreugde in jou vodde … wanneer jy koud kry, wanneer jy honger is, wanneer dit donker is. Dans!
Dis God se Woord. Vars … vir jou … vandag.
Support the show
Enjoying The Content?
For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
DONATE R50 MONTHLY
Wees Entoesiasties
2026/01/25
Send us a text
Romeine12:11 Moenie sleepvoet wees in julle toewyding nie; wees entoesiasties; wees werklik diensbaar vir die Here. (NLV)
Dis so lekker wanneer jy jou unieke gawes en vermoëns tot voordeel van ander kan gebruik, nè? Jy geniet dit wanneer jy besig is om iets te doen wat so reg in jou kraal is. Dit gee jou sommer nuwe energie en ywer om nog meer te doen.
Maar wees versigtig: ywer kan 'n tweesnydende swaard wees. Wanneer jou ywer op die verkeerde ding gefokus is, word dit verskriklik vernietigend. Maar dis fantasties wanneer dit op die regte ding gefokus is en jy iets doen wat by jou vermoëns pas en ‘n positiewe bydrae tot hierdie wêreld lewer.
Jy het dalk nog nooit hieraan gedink nie, maar ek skryf elke jaar 365 van hierdie daaglikse VARS-boodskappe. Dis ongeveer 140 000 woorde, meer as 'n PhD-tesis. Ek skryf hierdie boodskappe al vir tien jaar lank – en vandag s'n is die 3 255ste boodskap. Elkeen word in 'n radio-ateljee opgeneem. Elkeen word in 'n TV-ateljee verfilm. Mense vra my dikwels hoe doen jy dit? Hoe kom jy met die idees vorendag? Hoe hou jy dit, dag na dag na dag, jaar na jaar vol?
Ek sal jou vertel hoe. Ek doen slegs dít waarvoor God my geskep het. Wanneer ek soggens voor my rekenaar gaan sit om die volgende boodskap te skryf, is ek opgewonde. Ek is absoluut mal daaroor. En dis hoe werk veronderstel is om te voel.
Romeine 12:11 Moenie sleepvoet wees in julle toewyding nie; wees entoesiasties; wees werklik diensbaar vir die Here. (NLV)
Die oorspronklike Griekse woord wat hier as "entoesiasties" vertaal word, skilder die prentjie van kookwater. Wees warm, passievol, wees borrelend, gee stoom af. En my vriend, dis wat gebeur wanneer jy gehoorsaam is aan die God wat jou gemaak het om dít te doen, waarvoor Hy jou geskape het.
Wees opgewonde om Hom te dien!
Dis God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.
Support the show
Enjoying The Content?
For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
DONATE R50 MONTHLY
Moenie Lui Wees Nie
2026/01/24
Send us a text
Romeine 12:11 Moenie sleepvoet wees in julle toewyding nie; wees entoesiasties; wees werklik diensbaar vir die Here. (NLV)
Kom ons gesels ‘n bietjie oor jou werk. Daar is twee ewe vernietigende uiterstes. Aan die eenkant kan jy die werkslaaf, wees wat bereid is om jou gesondheid en jou familie op die altaar van sukses te plaas. Aan die anderkant kan jy die luiaard wees wat die minste moontlik sal doen.
Twee samurais, Motoharu en Takakage, was broers wat tydens die 16de-eeu in Japan 'n plaaslike heer gedien het. Motoharu het daagliks hard geoefen om sy vaardigheid in die gevegskuns te verbeter: hy het met onvermoeide dissipline ‘n fyn strategie bestudeer; maar Takakage, hoewel hy net so begaafd was, het ontspanning verkies; hy het uitgestel om bevele te gehoorsaam en sy pligte verwaarloos.
Toe hulle die dag in ‘n geveg te staan gekom het, was Motoharu gedissiplineerd en suksesvol - Takakage het klaaglik misluk. Die kontras was duidelik: een het die vrug van sy volgehoue moeite gepluk, die ander moes die skande van luiheid verduur.
Dis 'n kontras wat jy gereeld sien afspeel. Ek het dit selfs in die bediening gesien. Sommige mense het na ons organisasie gekom en verwag dat die werk maklik sal wees. Dit is immers 'n Christelike organisasie. Hulle idee was dat dit alles oor liefde gaan en dat hulle met baie min moeite heerlik kan terugsit en die Here sal voorsien.
Wat van jou? Hoe benader jy jou werk? Terwyl jy daaroor nadink; hier God se standpunt:
Romeine 12:11 Moenie sleepvoet wees in julle toewyding nie; wees entoesiasties; wees werklik diensbaar vir die Here. (NLV)
Luiheid is beslis nie ‘n goddelike eienskap nie, nee, beslis nie. Ek stem saam dat ons ook moet rus; maar om werksverslaafd te lewe, is netso goddeloos. Luiheid is 'n kanker wat te veel mense beroof van die diep bevrediging wat kom wanneer jy jou unieke gawes en vermoëns gebruik om ander te bevoordeel.
As hierdie boodskap vandag vir jou is: word dan wakker. Werk hard terwyl jy die Here dien, en moenie lui wees nie.
Dis Sy Woord. Vars ... vir jou ... vandag.
Support the show
Enjoying The Content?
For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
DONATE R50 MONTHLY
Respekteer Ander
2026/01/23
Send us a text
Romeine 12:10 As broers en susters in God se huisgesin moet julle mekaar in liefde koester en voor in die ry staan om mekaar met respek te hanteer. (NLV)
Om ander met respek te behandel, klink baie mooi en eerbaar. Ons weet intuïtief dis wat ons veronderstel is om te doen; ons weet ons moet mekaar eer en respekteer. Die probleem is net dat dit nogal ongerieflik is, nè? In hierdie vinnig veranderende wêreld waarin ons leef, het ons nie regtig die tyd of die lus om uit ons pad te gaan om iemand anders te probeer verstaan en te eer nie.
Dale Carnegie het in die laat 1800's in 'n Christelike huis op 'n plaas in Missouri grootgeword. Sy ouers se waardes, veral die van vriendelikheid, nederigheid en integriteit was van kleins af deel van hom.
Hy het later 'n topverkoper in die sakewêreld geskryf – Hoe om vriende te wen en mense te beïnvloed. Wie wil nie meer vriende hê nie? Wie wil nie mense kan beïnvloed nie? Hoewel ek 'n paar probleme het met die motiverings agter dit wat hy geskryf het, is dit moeilik om te stry met die sentrale beginsel van sy boek: Mense is meer geneig om positief te reageer wanneer hulle gerespekteer, gewaardeer en werklik verstaan voel.
Carnegie se boodskap is eenvoudig maar kragtig: Verander die manier waarop jy met ander omgaan, en jy sal jou verhoudings, sowel as die resultate, verander.
Dis nou nie vuurpylvernuf nie, of hoe? En tog is dit 'n ingrypende aanpassing wat baie mense nooit, tot hulle eie nadeel en dié van ander, maak nie:
Romeine 12:10 As broers en susters in God se huisgesin moet julle mekaar in liefde koester en voor in die ry staan om mekaar met respek te hanteer. (NLV)
Ons het gister na die eerste gedeelte gekyk. Die tweede deel, wat oor respek gaan, maak dit so prakties: staan voor in die ry om mekaar met respek te hanteer.
Wanneer laas het iemand jou met respek behandel? Hoe het dit jou laat voel? So, dink net hoe jou verhoudings sal verander as jy altyd daarop konsentreer om die ander persoon met meer respek te behandel, as wat hy teenoor jou betoon?
Behandel mekaar met groot respek en agting.
Dis God se Woord. Vars ... vir jou ... vandag.
Support the show
Enjoying The Content?
For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
DONATE R50 MONTHLY
Podcast reviews
Read God se Woord VARS vir jou Vandag podcast reviews
Podcast sponsorship advertising
Start advertising on God se Woord VARS vir jou Vandag relevant audience podcasts
You may also like to advertise on these Podcasts

4.93353752
The Exam Room by the Physicians Committee
Physicians Committee

4.6343500
Locked On Orioles - Daily Podcast On The Baltimore Orioles
Locked On Podcast Network, Connor Newcomb

4.61774434
The Currently Reading Podcast
Meredith Monday Schwartz and Kaytee Cobb

4.3221541
Following On: talkSPORT's cricket show
talkSPORT

4.41317133
Scream!
Ash & Alaina & Caleb | Morbid Network

4.846302000
Pat Gray Unleashed
Blaze Podcast Network

4.7535420
Religion on the Mind
Dan Koch

4.7952562
Ride the Lightning: Tesla and EV Podcast
Ryan McCaffrey

4.420131306
History Daily
History Daily

4.414755969
The Bossticks
Lauryn Bosstick and Michael Bosstick / Dear Media